top of page

Volhoubaarheid van Kerkwees

12. Jesus Christus se aardse bediening was aanstootlik vir die aardse magte en bedelings van die tyd en het ’n geloofsgemeenskap in die lewe geroep wat nie-vyandig gefunksioneer het teenoor, tog radikaal anders, as die kontemporêre politieke-, maatskaplike- en ekonomiese stelsels. Weerloos, nederig en diensbaar. Die Koninkryk van God.

13. Die algemene, christelike kerk het histories egter weerbaar geword. Aardse koninkryke, state en regeringshet die geloof wêreldwyd aanvaar. Sulke aardse magte het egter selde aangepas by die evangelie en eerder die geloof vir hul bestaande bedelings en ideologiese belange toegeëien. Kultuur eerder as geloof is onder die vaandel van godsdiens versprei.

14. Ook die geloofsgemeenskap soos dit in ons eie en ander protestantse kerke neerslag gevind het, weerspieël steeds onderliggend tipiese eienskappe van die strukture en werkswyses van die wêreldlike stelsels waardeur dit gevorm is.

15. Die noodsaaklike gesprek oor die vorm van kerk- en gemeentewees geniet tans baie aandag.Die apostoliese opdrag van die kerk (Mat 28: 19-20) word opnuut ondersoek. Of “missionale kerkwees” soos dit tans verstaan word die antwoord op alle geloofsvrae gaan bied, is te betwyfel, maar dit is aansienlik nader aan die aard van Christus se bediening as ons huidige model en metodologie.

16. Omdat die gemeentes van die NHKA egter onder die Sinodaal-Presbiteriale model gevorm is en aan die lewe gebly het, is dit onrealisties om te verwag dat individuele gemeentes missionaal moet heroriënteer terwyl die groter kerklike struktuur steeds die vereistes van hierdie model handhaaf.

17. Gemeentes volg in die rigting waarheen hulle gelei word, want hulle vertrou dat die Kerk haar predikante opgelei het om hulle op ’n evangelie-getroue pad te lei. So graag soos ons die teendeel wil glo, is predikante egter nie verhewe bo die kommer oor oorlewing nie.

18. Om selfs net algemene gewoontes, karakter of gedragspatrone aan te spreek wat die koninkryk skade aanrig, is uitdagend wanneer die aangesprokenes ’n predikant onderhou. Veral in kleiner gemeenskappe waar enkele lidmate se wil die gemeente aan die lewe hou. Dis ondenkbaar dat sulke gemeentes, maar wel ook groter gemeentes, se predikante doelbewus leiding sal neem in ’n stelsel waarvan die primêre doel nie die onderhoud van die werksruimte is nie maar eerder uitbreiding en onderhoud van die koninkryk van God.

19. Gemeentes wat nie ’n werksruimte kan bekostig nie mag nie sonder bediening en geloofsverpligting in die gemeenskap deur die NHKA verwerp word nie.

20. Daarom is dit van kardinale belang dat die Kerk ’n sentrale vergoedingstelsel of ander vorm van onderhoud van predikante sal ontwikkel. So sal predikante vry en aanspreeklik wees om die volle evangelie vreesloos te verkondig en afgesien van sinodale bydraes wat so ’n stelsel sal vereis, sal gemeentefondse vir sinvolle bediening in die gemeenskap aangewend kan word. Kleiner gemeentes se volle inkomste sal nie deur die vergoedingskaal in beslag gelê word nie en groter gemeentes sal nie in die versoeking gelei word om onnodige uitgawes aan te gaan nie. Laat alle gemeentes relatief tot hul seëninge in die verenigde werk van die Kerk deel.

21. Die geweldige weerstand wat teen so ’n stelsel bestaan, is ’n aanduiding dat ekonomiese sekuriteit, wat die kerk as struktuur betref, dikwels voorrang bo die uitbreiding van die koninkryk geniet.

22. Dit is onaanvaarbaar dat gemeentes toegelaat word om uitspattige en luukse veranderinge aan kerkgeboue te maak wat nie prakties tot die bediening van sulke gemeentes bydra nie, terwyl daar gemeentes in dieselfde ringe bestaan wat nie ’n leraar kan bekostig nie, of erger, waar lidmate van buurgemeentes haweloos en honger is.

23. Dit is onaanvaarbaar dat, gedurende die herrangskikking van kerklike hulpbronne en opstel van begrotings, die voorsiening vir die diakens minder as 10% uitmaak van die begroting. Het ons so vêr van die koninkryk beweeg dat die diakonaat, die daaglikse optrede van Christus self, die laagste prioriteit van die NHKA geword het?

24. Sou dit veilig wees om aan te neem dat die laaste plek waar daar aan uitgawes gesny word wanneer die finansiële posisie van die Kerk benard raak die vergoedingskale van predikante en sinodale poste is?

25. As finansiële sekuriteit in ons huidige model van Kerkwees vir die Kerk en haar gemeentes ’n struikelblok is om die koninkryk uit te brei, moet die model verander (Matt. 5:29-30; 19:23-24).

26. Skolastiese meerderwaardigheid funksioneer meermale in vergaderings van die Kerk. Akademiese titels verleen gedurende gesprekke gesag aan persone, ongeag of die vakgebied/bekwaamheid van die spreker verband hou met die betrokke onderwerp.

27. Persone word op grond hiervan in poste aangestel of ingestem, wat nie noodwendig oor die nodige kennis of vaardigheid vir sodanige poste beskik nie. Bestaande oneffektiwiteitword so geëskaleer.

28. Die reformasie het van bepaalde verwronge dogmas en kosmetiese versierings ontslae geraak, maar tans funksioneer die kerk steeds op soortgelyke manier as die wêreldse magte rondom ons en voortdurende, doelgerigte hervorming is nodig.

29. Ampsdraers kom al hoe minder in die huise van ons lidmate en die kerk raak al hoe meer verwyder van die lidmate, met die gevolg dat lidmate maklik wegbly of begin rondsoek na ‘n tuiste in ander kerke. Lidmate word ook nie genoegsaam bewus gemaak van hul “amp” as gelowiges nie.

30. Reik ons werklik nog uit na ons lidmate (jonk en oud), weet ons werklik en gee ons om vir ons lidmate of moet hul maar na die kerk toe kom “as hul die kerk nodig het”? Die uitreik van ampsdraers na lidmate behoort so te geskied dat dit die lidmate se uitreik na die breër gemeenskap stimuleer.

31. Gemeentes word meer en meer soos besighede en fokus verskuif na finansiële oorlewing (die verwagting word immers geskep dat as die gemeente nie meer ‘n predikant kan bekostig nie en nie meer sinodale offergawes kan betaal nie, die deure gesluit moet word) in plaas daarvan om gemeentes te wees wat die Woord verkondig en waar prediking, getrou aan ons reformatoriese beginsels, sentraal staan.

32. Sulke “besigheidsmodel-gemeentes” beroep eerder predikante wat ‘n bepaalde begrip van aanskoulikheid vertoon, predikante wat eerder gemeentelede sal lok, omdat hulle op getalle en finansiële oorlewing eerder as die regte verkondiging ingestel is.

33. As ons nie ons geloof rondom God en dit wat ons in die Woord van God lees, bou nie, waarop bou ons ons geloof dan?

bottom of page