Barmhartigheid.
56. God is ‘n God van barmhartigheid, en in Lukas 6:36 kry ons die opdrag om barmhartig te wees soos ons Vader barmhartig is.
57. Ons as gelowiges en die kerk moet soos die barmhartige Samaritaan nie alleen mense se nood raaksien nie, maar ons moet ook ingryp en hulp verleen.
58. In die Kerk gebeur dit ongelukkig dat daar nie aandag gegee word aan oproepe tot hulpverlening nie.
59. Die afdelings van die kerk wat tans die grootste stryd om oorlewing voer is die afdelings wat barmhartigheidsdienste lewer. In ‘n kerk wat die barmhartigheidsopdrag uitvoer en in die voetspore van Christus volg is dit nie veronderstel om te gebeur nie.
60. Gemeentes en gelowiges moet egter ook besef dat barmhartigheidswerk nie net oor finansiële hulp gaan nie.
61. Soos die barmhartige Samaritaan moet hul self van hul donkie (luukse motor) afklim en van hul tyd, aandag en kragte gee, selfs aan gemeenskappe wat nie ons eie agtergrond deel nie.
62. Ons almal moet self betrokke raak en bereid wees om ons eie hande en middele te gebruik.
63. Gelowiges en geloofsgemeenskappe verwag dikwels dat daar iemand anders is wat die hulp sal verleen, hetsy finansieel of met vrywilligers. Dikwels is daar wel, maar dan word sulke mense of groepe deur gelowiges van humanistiese anti-Christelikheid aangekla.
64. Gevolglik word God se opdrag verloën en geleenthede vir dienswerk gaan verby.