Tydgees
89. Daar is by verskeie geleenthede uitnodiging gerig om aan hierdie gesprek deel te neem. Die terugvoer vanuit die “kerkbanke” is bemoedigend. Die terugvoer vanuit die kringe wat deurlopend iets te sê het, was egter min, wat die tydgees van ons Kerk verklap.
90. Dit is verstaanbaar dat baie mense mismoedig raak met voortdurende probleme. Dit is verstaanbaar dat elkeen ’n opinie het oor wat waar moet verander en wanneer. Dit is verstaanbaar dat gesprekke onder gelowiges sulke opinies as inhoud het. Sulke gesprekke is egter waardeloos as dit nooit tot optrede aanleiding gee nie.
91. Die Kerk as geloofsgemeenskap verdien meer as onderlinge kritiek rondom braaivleisvure en in kerklike vergaderings. Dit is kenmerkend van en gepas vir ’n sekulêre wêreld om te kla oor hoe ellendig sake is sonder om ooit iets daaraan te doen. Nie van of vir die koninkryk van God nie.
92. Die koninkryk van God is nie ellendig nie. As ons kan kla oor hoe ellendig ’n saak is dan weet ons uiteraard waar ons werk op ons wag. Gesprek moet vir die Kerk verandering meebring sodat die kerk uiteindelik die wêreld kan verander.
93. Die Kerk en gemeentes moet enersyds begin vra wat hulle vir die lidmate en gelowiges waaruit hulle bestaan kan doen en gelowiges moet andersyds begin vra wat ons as lidmate van die Kerk in die breëre gemeenskap kan doen om Christus in die wêreld sigbaar te maak.
94. Indien die Kerk nie bereid is om weer te besin oor haar doel, rol en vorm in die verkondiging van God se koninkryk nie, verkwis sy die voorreg van haar roeping.
95. Ecclesia reformata semper reformanda: Die kerk van die Hervorming moet aanhou hervorm.