Geregtigheid
49. Die Kerk kan nie op so ’n manier funksioneer dat dit voordeel trek uit ’n sisteem van onreg nie (Luk. 19:11-28). Wat regverdig is volgens kapitalisme, of enige heersende ekonomiese paradigma, is nie vanselfsprekend regverdig volgens die evangelie nie.
50. Dit is regverdig om ’n lewensvatbare bestaan vir kerklikes en kerklike lidmate te bepleit, mits die standaard vir lewensvatbaarheid dieselfde bly wanneer ons oor gemeenskappe praat wat op minimum loon funksioneer.
51. Die gemeenskap van gelowiges mag nie weerlose mense deur en twv die vrede van kulturele norme aan misbruikende mense-verhoudinge onderwerp nie, hetsy op huishoudelike, gemeenskaplike of nasionale vlak. (Matt. 5: 27-28; 10:34-39)
52. Dit is wonderlik dat die Kerk amptelike skrywes van protes rig teen magstrukture wat teen die belange van ons land se mense optree. Die Kerk huiwer egter steeds deurlopend om betrokke te raak in situasies waar ons kern-demografie nie direk deur bestaande onregte geraak word nie.
53. Daar blyk groot verwarring rondom die Kerk se amptelike beleid ivm die land se Kinderwet te wees. Tans het gemeentes nie toegang tot die beleid, of sekerheid dat daar wel so ’n beleid bestaan nie.
54. Daar is geen geregtigheid aan ’n Kerk waarvan bepaalde gemeentes agv geografiese ligging of demografiese samestelling materiële oorvloed geniet terwyl ander gemeentes van dieselfde Kerk vermink word of afsterf agv materiële tekort nie. Dit is slegs kapitalisties regverdigbaar.
55. As ons soek na die “regverdige” standaarde van aardse koninkryke sal ons dit vind, en onvermydelik daaroor kla. Maak dit nie meer sin, vir gelowiges minstens, om te soek na die geregtigheid van die koninkryk van God nie?