Kommunikasie
78. Die Kerk het verval in ‘n kommunikatiewe doodloopstraat Die Kerk se kommunikasiemiddele is oudmodies en die kommunikasie bereik nie die breëre gemeenskap nie.
79. Ons is ’n Kerk wat nog steeds iets te sê het vir die wêreld, maar daar is óf nie ‘n bereidwilligheid om dit te kommunikeer aan die wêreld nie, óf die kommunikasie kanale is te swak.
80. Gebruik ons elektronika genoegsaam en effektief in kommunikasie? Die se hoofartikel is soms goed, maar advertensies en kennisgewings word baie herhaal en nie noodwendig gelees nie. Vergelyk hoe Twitter, Instagram, Whatsapp ensomeer deur instansies, politici en ander gebruik word om kort en kragtig standpunte, boodskappe, mededelings ensomeer oor te dra.
81. Die Kerk se webtuiste is weereens ‘n goeie voorbeeld. Daar word maandeliks ‘n bedrag betaal om die webtuiste in stand te hou en op te dateer. Daar moet egter gevra word watter opdaterings en instandhouding gedoen word.
82. Die HTK se bladsy op die Kerk se webtuiste wys dat die vorige hoof van die HTK nog steeds daar is,hoewelhy van 2014 af nie meer is nie. Die bladsy self is ook op ‘n templaat gedoen wat ouer is as 7 jaar.
83. Die Kerk se kommunikasie is ‘n goeie paar jaar agter die res van die wêreld s’n. As ‘n instansie se kommunikasie irrelevant raak, raak die instansie irrelevant. Die vraag kan gevra word: is kommunikasie ook een van die redes vir dalende lidmaatgetalle?
84. Die Kerk mis geleenthede om te kommunikeer en ‘n boodskap te gee vir ons lidmate, gelowiges en ons land. Die Knysna-vure is ‘n voorbeeld, waar was ons Kerk se boodskap van medelye, boodskap van hoop, boodskap van liefde?
85. Op bladsy 12 van die Maart 2017 Konteks maak ‘n voormalige werknemer van die Nederduitsch Hervormde Kerk die volgende stelling: “Die ergste was altyd om nie te weet wat aangaan nie en die gebrek aan die nodige inligting wat groot onsekerheid by personeel kon veroorsaak.” As personeel dit sê, hoeveel te meer lidmate?
86. Dit is nog steeds so, indien nie erger nie. Met die verkoop en trek van die sinodale dienssentrum is daar die heeltyd wangekommunikeer. Die inligting wat personeel, lidmate en predikante gekry het was verskeie kere verskillend. Dit het afgehang van by wie jy dit hoor, alhoewel dit dieselfde inligting moes wees.
87. Oneffektiewe of onvoldoende kommunikasie lei onvermydelik na wantroue omdat dit die persepsie kan skep dat inligting doelbewus verswyg word. Ten einde sulke uitkomste te voorkom, word groter erns met deursigtige kommunikasie bepleit.
88. Rolbeskrywings in die sinodale kantore moet duideliker verwoord wie vir wat verantwoordelik is. Daar is tans groot onsekerheid hieroor, veral tov die poste van die twee sekretarisse, wat deursigtige kommunikasie strem.