Teologie en onderrig
34. Die NHKA beoefen ’n kritiese teologie sedert die aanvang van die opleiding van ons eie predikante aan die Universiteit van Pretoria. Leraars van die NHKA het die verantwoordelikheid om hierdie voorreg in die gemeente uit te leef, maar ook om lidmate deur prediking en onderrig dieselfde voorreg te gun.
35. Baie van die onnodige stryd en misverstand kan vermy word indien lidmate met deernis en begrip gelei word om die ontstaan-wêreld van die antieke geskrifte en verstaansraamwerke van die Bybelskrywers en hul tydgenote te ontdek.
36. Die wesenlike kwessies wat deur die Bybelse geskrifte aangespreek word, moet duidelik aangetoon en onversag in die prediking en kategese behandel word. Vertrou lidmate en leer kinders om krities te dink en deur die Woord verander te word wanneer ons dit deursigtig en eerlik oordra. Dit is wat die Woord doen wanneer dit deur die evangelie beskou word eerder as deur kultuur of ideologie.
37. In ons tradisie van kritiese Skrifbeskouing en teologie-beoefening is beide liberalisme en konserwatisme die uiterste standpunte op dieselfde spektrum van vrysinnigheid.
38. Die evangelie moet in sy volheid verkondig en bedien word. Jesus se bediening fokus baie selde op leringe oor die hiernamaals. Deur geloof in Christus is ons seker van die hiernamaals. Dis omtrent al wat ons daaroor kan sê. Die ongeveer 3 jaar se openbare bediening van Christus is die voorbeeld vir ons verkondiging en bediening.
39. Jesus Christus verskil van aardse magte o.a. in dié sin dat Hy die menswaardigheid van alle mense erken, herstel en beskerm (deur genesing, voeding en weiering om te oordeel oor ‘sistemiese’ sondaars). Hy leer ons om daardie voorbeeld na te volg, vanuit ons liefde vir- en vertroue op God. Dít is die koninkryk van God wat op aarde kom soos in die hemel.
40. Om aan te voer dat die navolging van Christus se bo-menslike menseliefde die gees van humanisme is, en daarom bestry moet word, is ’n lastering teen die Heilige Gees. (Matt. 5:43-45; 9:2-4; 12:22-32; Luk. 11:19-20)
41. Israel het ná millennia daarin misluk om God aan die wêreld te openbaar soos God hulle geleer het. God het daardie volk egter nie nodig gehad om sy koninkryk te vestig nie, maar hulle tog die geleentheid gegee om daaraan deel te neem. As die kerk na 1700 jaar steeds nie die koninkryk van God (sonder kulturele of politieke korrupsie) verder kan uitbrei deur die gebod wat die wet en profete opsom te onderhou nie, is dit nie ondenkbaar dat die Heilige Gees dit sonder die strukturele kerk begin uitbrei dmv bewegings wat wel Christus se voorbeeld volg nie.
42. Inderdaad is die toenemende twis en kerkskeuring/s wat plaasvind omdat gelowiges Christus se leringe as ’n bedreigende filosofie misken wanneer dit nie deel uitmaak van georganiseerde godsdiens nie, ’n goeie aanduiding dat die Gees reeds sonder die kerk werksaam is, en die kerk dikwels sonder die Gees.
43. Die NHKA kan nie volhoubaar funksioneer in ons huidige konteks deur geïsoleerd te bly nie. Voortgesette opleiding van predikante en algemene opleiding van lidmate het in intellektuele inteling verval. ’n Uiters eenvormige demografie wat vir dieselfde demografie vertel hoe om ’n verskil te maak in ’n uiters diverse land en wêreld wat nie dieselfde omstandighede van die sprekers of die hoorders deel nie en selde, indien ooit, deur hulle besoek word.
44. Die gevestigde gesag van die Kerk vertoon ’n kommerwekkende gesindheid van marginalisering teenoor die stemme wat nie aansien onder ons historiese kultureel-maatskaplike samestelling geniet nie (jonger, vrouliker en armer stemme asook dié van minderheidsgroeperinge wie se ondersteuning nie tot die duidelike voordeel van die bestaande gesag bydra nie).
45. Leierfigure besoek graag die mega-kerke van die VSA en die katedrale van Europa twv bedienings – instellings wat ook maar buitensporige voordeel trek uit die bestaande aardse bedelings van hul eie kontekste en geskiedenis.
46. Preke word ingekleur met mistiese ervarings van die Via Dolorosa en O Camiño de Santiago. Maar die mense vir wie ons kan en moet verkondig sal nooit daardie dinge ervaar nie. Hulle is in Thembisa en Soweto en Khayelitsha en Imbali. Plekke waar kerke ook bestaan en groei.
47. Vir elke internasionale “kerklike” besoek wat ons leierfigure aflê, behoort ’n nasionale een verpligtend te wees. Dis waar die kennis van die groeiende werklikheid onder ons mense jare lank reeds funksioneer.
48. Laat regters en maatskaplike werkers en onderwysers, wat weet waar en wat die nood in die gemeenskap is toe om met ons te praat. Die Kerk as sodanig weet eenvoudig nie wat ons alles kan doen nie. En as ons weet, is ons nie bereid nie, want die gemeentes sal nie ’n predikant kan bekostig as ons dit doen nie.